May 03

Billike beoordeling vir sorgsentrum

Billike beoordeling vir sorgsentrum

Die VF Plus neem die besware wat ontvang is en die regte van die inwoners in ag maar is van mening dat alle maatreëls deur die eienaars in plek gestel is om die besware te besweer.

11 May 2012

    

Die VF Plus is in die proses om die Mogale City Stadsraad en die Gauteng Departement vir Gesondheid te nader om op ‘n dringende basis duidelike redes te verskaf waarom die La Reynette sorgsentrum  nie geregistreer kan word nie.

“Die hantering van die registrasieproses van die sorgsentrum is totaal ontoereikend en onbevredigend”, sê Jaco Mulder, VF Plus lid van die Gauteng Wetgewer en inwoner van Krugersdorp.

Die sorgsentrum is tans in die nuus nadat die DA ‘n beroep gedoen het op die Gauteng Department van Gesondheid om die sentrum se sluiting te bekragtig sonder dat die DA LPW Hendrika Kruger die fasiliteit besoek het.

Die VF Plus neem die besware wat ontvang is en die regte van die inwoners in ag maar is van mening dat alle maatreëls deur die eienaars in plek gestel is om die besware te besweer.

Volgens Mulder maak die departemente hulself daaraan skuldig dat die vereiste reëls inkonsekwent toegepas word. Die sentrum beskik oor ‘n volledige stel dokumente wat kan bewys dat die eienaar van die sentrum,  Reinetta Ridley,  die bedoeling het om binne die vereiste reëlraamwerk ‘n diens aan die gemeenskap te lewer en dat die owerhede nie in staat is om die reëls konsekwent toe te pas nie.

Die VF Plus het die week ‘n afvaardiging van onder meer Jaco Mulder LPW,  Hannelie Snyman, Mogale City Raadslid en  Marinda Toerien, VF Plus inligtingsbeampte na die sentrum gestuur om hulself van die ware feite te vergewis.

“In elke gemeenskap is daar ouer en jonger mense wat verswak is en spesiale versorging in ‘n proses na herstel benodig.

“Daar rus ‘n verantwoordelikheid op elke gemeenskap om hierdie mense nie uit te skuif nie, maar om hul morele plig tot versorging na te kom, veral ook omdat staatsondersteunde instellings dikwels ontoereikend is”, het Mulder gesê.