Apr 16

SY OUMA ’N ‘SHOWBIZZER’

SY OUMA ’N ‘SHOWBIZZER’AJ Opperman
2014-04-11 00:00
Die akteur Louw Venter besoek sy ouma Bee Louw by die La Reynette-sentrum in Krugersdorp. Heel regs is Annette Brand van die sentrum.
 Ouma Bee, Louw Venter en Annette Brand

Toe die akteur Louw Venter, ’n oudleerling van die Hoërskool Noordheuwel, onlangs sy ouma Bee Louw in die La Reynette-sentrum vir bejaardes in Krugersdorp besoek het, was dit duidelik hy maak altyd plek vir dié vrou, ’n druk akteursprogram ten spyt.

“Ai, en Oubee (soos die familie haar noem) is trots as jy in haar kamer instap,” het Venter oor sy ma se ma vertel. “Sy is al 95 en al meer as 25 jaar ’n weduwee. Sy het eers vir ses jaar by my ma gewoon, maar is nou baie verswak.”

Venter, deesdae ’n Kapenaar, was onlangs in Johannesburg vir die bemarking van die rolprentKonfettiwaarvan hy die draaiboek geskryf het en ook die rol van Lukas vertolk.

“Jitte, maar dit was op en af terwyl ek in Johannesburg was. Op een dag het ek en my medespelers 40 onderhoude vir die fliek gedoen.”

Maar voor dié onderhoude het hy eers met sy ouma gesels.

“Sy is ’n secret showbizzer op haar eie, hoor? Sy kan nog ou versies onthou en opsê en die verlede nog flink ophaal. My skedule is maar op en af, maar as ek tyd het, maak ek vir seker by Oubee ’n draai.”

Venter het naby haar in Krugersdorp grootgeword.

Tienke Bosher van die La Reynette-sentrum vertel oor Venter se besoek: “Louw Venter is nie verniet so geliefd as ’n akteur nie, want karakter is wat hy het. Dit vloei deur hom soos bloed deur die are.”

Volgens Bosher kon hulle nie genoeg kry nie.

“Louw is pragtig en dit is vir seker ons plesier om na sy ouma Bee te kyk. Ouma Bee is iemand met daardie spesiale gawe om jou tien voet lank te laat voel net omdat jy jou werk doen deur haar te versorg.”

.Venter is nou te sien in die televisiedrama Swartwater op SABC2.