Jul 23

Smeer Vaseline teen blomkoolore

Tienie Matthyser (99), oud-Transvaalse rugbyspeler en deesdae inwoner van die La Reynette-sorgsentrum in Krugersdorp, het ’n boereraat vir rugbyspelers.

“Smeer Vaseline aan jou ore vir daardie skrums,” vertel dié voormalige slot. “Dit keer dat jy blomkoolore kry.”

Matthyser, gebore Marthinus Johannes Hendrik, vier op 16 September sy 100ste verjaardag.

Hy is in Bloemhof in Noordwes gebore en het sy hoërskoolloopbaan ná sy st. 7-jaar aan ’n hoërskool in Cottesloe, Johannesburg, kortgeknip om ’n diamantslyper te word.

Dit was die Depressiejare en hy het by die destydse CMR-myn in Maraisburg gewerk. Ná werk was dit tyd vir rugby.

As jong werkende man het hy sommer koekepanne opgetel vir oefening, vertel hy. Vyf dae ’n week het hy 14 myl ver (sowat 22km) gehardloop.

Saterdae was sy wedstryddag.

“Ek het net Sondae af gehad,” sê hy.

Hy het in die 1930’s en ’40’s vir die Crown Mines-rugbyklub gespeel en was volgens Daniël Ellis van Roodepoort, ’n vriend en self ’n oudspeler, in 1942 kaptein van die Transvaalse span.

Latere jare het Matthyser ’n plasie in die Muldersdrift-omgewing gekoop om met blomme te boer. Die blomboerdery is intussen aan ’n sakeman verkoop, maar een van sy twee dogters woon nog op die grond.

Hy het op die ouderdom van 40 sy rugbystewels opgehang, vertel hy, terwyl hy rustig aan ’n sigaret teug.

“Toe ek rugby gespeel het, het ek nie gerook nie, hoor!”

Matthyser sê hy sal graag weer saam met van sy ou rugbymaats wil kuier. Belangstellendes kan die La Reynette-versorgsentrum by 011 953 5012 bel.